ATKV wil trotse Suid-Afrikaners vereer

Die ATKV is vanjaar 75 jaar jonk (!) en beywer hom vir die bevordering van die Afrikaanse kultuur binne die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap. In hierdie feesjaar word spesiale spoggeleenthede landwyd gereël waartydens erkenning gegee word aan enige Suid-Afrikaner wat ‘n besondere bydrae gelewer het tot die totstandkoming van die suksesvolle Suid-Afrika.
Hierdie persone hoef nie noodwendig Afrikaanssprekend te wees nie, maar sy of haar bydrae tot Suid-Afrika se suksesverhaal is vir die ATKV van baie groot belang gesien vanuit die perspektief dat elkeen op sy eie unieke manier ‘n bydrae tot ‘n Suid-Afrika kan lewer waarop al sy inwoners trots kan wees.
As dinamiese en toonaangewende kultuurorganisasie, bied die ATKV die geleentheid om tydens hul 75ste bestaansjaar, ‘n persoon of instansie, bekend as ‘n Afrikoon, in u gemeenskap te nomineer vir die ATKV-75-Feestoekenning 2005. Dié toekennings sal in 2005, tydens verskeie ATKV-toekenningsgeleenthede oorhandig word.
Nominasievorms en volledige besonderhede kan by Lizette Odendaal by (011) 919-9012 of 082 416 7217 aangevra word. Alle besonderhede asook die nominasievorm is op die webwerf beskikbaar by www.atkv.org.za.