Mama Tau – projek van die wit leeu

ELLISRAS – Mama Tau het verlede Vrydag, 28 Januarie, hul amptelike opening van hul wit leeu projek gehad. Die eienares, Vivian Baro (afkomstig van België) en haar gesin, kom reeds die afgelope 30 jaar na Suid-Afrika vir vakansies en om te kom jag.
Baro het haar hart in Afrika verloor. Sy is gaande oor die groot verskeidenheid voëlspesies wat volgens Baro, nêrens anders in die wêreld te sien is nie. Nog ‘n trekpleister was die natuurskoon en die vars lug. Drie jaar gelede het hulle besluit om “huistoe” te kom, en het sy die grond in die Ellisras distrik bekom.
Mama Tau beslaan 4000 hektaar en daar is besluit om met leeus te teël aangesien daar nie tans ‘n leeu teëlprojek in die Limpopo provinsie bestaan nie.
Huidig is daar 14 leeus wat in kampe van ongeveer 1.6 hektaar geteël word. Die bruin- en wit leeus word in aparte kampe aangehou. Sewe van hierdie leeus is wit. Die leeus word Donderdae gevoer en elke leeu verorber tussen 20 en 50 kilogram vleis per week.
Geen ander voertuie word in die kampe toegelaat nie en die plaasbestuurder, Dirk Strydom, neem besoekers met beskermende wildbesigtigings voertuie om die leeus van nader te bekyk. Die leeus is rustig en laat jou redelik na aan hulle toe.
Die leeus is afkomstig vanaf Hoedspruit en kom uit ‘n bestaande teëlprojek. Vir die nodige permitte is daar egter baie lank gewag en ‘n paar maande gelede is dit eers goedgekeur.
Daar is toe aan die werk gespring om alles in gereedheid te kry vir die opening en om dag-besoekers te ontvang. Kostes beloop R60 per volwassene en R30 per kind jonger as 12 jaar.