Dentons se nuwe gesig

AMANDELBULT – Anema Denton het 25 jaar gelede Dentons Algemene Handelaar in Amandelbult geopen.
Die winkel het letterlik in alles voorsien, van ‘n kopspeld tot kruideniersware en fietsonderdele.
Anema jnr het in 1995 besluit om hom by sy pa aan te sluit.
Om te wys dat hy ook op sy eie bene kan staan, was hy net deeltyds betrokke. Na sy pa se skielike afsterwe het die hele besigheid vierkantig op sy skouers gerus.
Verlede jaar het hy en Amandelbultmyn bestuur vergader en daar is besluit om saam te werk en die besigheid op te gradeer.
Anema en Lientjie, sy nuutaangestelde slaghuis bestuurder, het koppe bymekaar gesit met idees om nie net die hele besigheid nie, maar veral die slaghuis, meer gebruikersvriendelik uit te brei.
Na deeglike navorsing het hulle tien verskillende baie populêre maandpakke saamgestel. Een spesiaal vir persone met hoë cholesterol.
Die Freddy Hirsch Supreme tablemate marinades en toerusting is aangekoop. Die toerusting is die heel nuuste op die mark en is van Duitse oorsprong.
Die tegnologie behels dat die vleissnitte onder vakuumverpakking gemarineer word. Hierdie proses versprei die marinade eweredig dwarsdeur die snit en dit sit nie net buite om nie. Die eindresultaat is dus ‘n baie sappiger, sagter en baie meer geurryke snit. Die marinade is in tien verskillende geure beskikbaar.
Die slaghuis kan nou ook groot hoeveelhede vleis vir funksies voorberei. Hulle kan die snitte opstop, rolle maak, berook, ryp maak en vele meer. Lientjie is baie kreatief en het reeds verskeie komplimente gekry met haar biltongruikers wat nie net deur mans, maar ook deur die dames waardeer word.
Buiten al die nuwe uitbreiding en verwikkelings in die slaghuis, spog Dentons nou ook met ‘n bakkery waar net broodrolletjies en pasteitjies deurlopend deur die dag gebak word. Daar word daagliks duisend broodrolletjies gebak wat so vinnig as wat dit gaar is, opgeraap word.
Die kruideniersafdeling is ook vergroot en met die vriendelike personeel is dit werklik ‘n plesier om nou inkopies te doen.
Met elke kliënt wat inkom, maak Anema ‘n punt daarvan om te gaan groet. Hy ken dus almal. Hy het tydens Die Kwêvoël se besoek ‘n nuwe gesig gewaar en het gou uitgevind dit is nuwe intrekkers.
Vir ‘n stadsmens is so ‘n vriendlike verwelkoming soos ‘n oase in ‘n woestyn.