Agri SA standpunte oor Agri SEB

Agri SA het sy standpunt oor Swart ekonomiese bemagtiging in die landbou  (Agri SEB), soos vervat in sy voorlegging aan die komitee wat onderhandelings hieroor fasiliteer, vandag vir openbare kennisname vrygestel. Die voorlegging maak dit duidelik dat Agri SA en sy lede die doelwitte van Swart ekonomiese bemagtiging ondersteun en dit reeds in die praktyk met ‘n verskeidenheid van programme bevorder, maar dat die organisasie wesenlike verskille het met amptelike voorstelle oor Agri SEB wat laasjaar vir kommentaar gepubliseer is.
Die amptelike dokument oor Agri SEB, veral die teikens en syfers daarin oor grondhervorming, het tot heelwat onsekerheid en debat aanleiding gegee.
Die Strategiese Plan vir die Landbou wat Agri SA in 2001 met die regering en die opkomende landbou onderhandel het, behoort na die mening van Agri SA die basis en riglyne vir Agri SEB te verskaf wat in die huidige raadpleging- en onderhandelingsproses na die vlak van meer detail deurgevoer moet word.
Agri SA sê die standpunt oor Agri SEB het verder gekulmineer uit die insette wat hy van sy lede, naamlik nege provinsiale landbou-unies, agt-en-twintig bedryfsorganisasies en die Landboubesigheidskamer ontvang het. Omdat boere en landboubesighede met die praktyk en implikasies van Agri SEB gaan werk, kon Agri SA nie namens hulle standpunte inneem sonder om hulle goed in te lig en daaroor te raadpleeg nie. Die diversiteit in die landbou is ook weerspieël in die uiteenlopende insette wat Agri SA in die raadplegingsproses moes oorweeg.
In sy voorlegging wys Agri SA op die familiebesigheid- en kleinsake-karakter van die kommersiële landbou wat met Agri SEB in ag geneem moet word, veral met aspekte soos grondherverdeling, aandeelhouding en deelname in bestuur.
Die lewensvatbaarheid van ‘n baie groot persentasie boerderye kan volgens Agri SA in die gedrang kom indien van die amptelike voorstelle rigied op individuele boerederye van toepassing gemaak word.  Agri SA wys ook in sy voorlegging op die grondwetlike regte van boere ten opsigte van privaatbesit, vryheid van ekonomiese aktiwiteit en van assosiasie wat met enige Agri SEB-voorstel geakkommodeer moet word.
Dit is Agri SA se standpunt dat die beste resultate met volhoubare Agri SEB behaal kan word deur middel van toepaslike inligting, ondersteuning, aansporings en erkenning. So ‘n benadering moet voorsiening maak vir die uiteenlopende omstandighede op grondvlak en die verskille in die potensiaal van individuele boerderye om aan bemagtigingsaksies deel te neem. Dit is Agri SA se standpunt dat daar op hierdie wyse ‘n  markomgewing geskep kan word wat Swart ekonomiese bemagtiging sinvol kan bevorder.
Agri SA se steun vir markbeginsels  blyk ook uit sy standpunt oor grondhervorming. Dit is die organisasie se standpunt dat daar genoegsame hoeveelhede grond vir herverdeling beskikbaar is, maar dat onvoldoende fondse die grootste knelpunt is wat vordering hiermee kniehalter. Agri SA bepleit derhalwe ruimer staatsondersteunde programme vir grondhervorming en ‘n sonsondergang bepaling vir die beëindiging van staatsbetrokkenheid in die grondmark.
Verder behoort privaatsektor ondersteuning vir boerontwikkeling meer gestruktureerde aandag te geniet. Agri SA stel voor dat dit bereik word deur ‘n venootskapsbenadering op plaaslike-, provinsiale- en nasionale vlak tussen die owerheid, die georganiseerde landbou en die landboubesigheidomgewing te volg binne die raamwerk van forums wat hiervoor gevestig moet word.
Volgens Agri SA sal insentiewe om boere te montiveer om aan die onderwys- en opleidingspogings deel te neem, verseker meer produktief wees as aksies om diegene te dwing om dit wat in wese ‘n owerheidsfunksie (i e onderwysfunksies) is, te onderneem. Hierbenewens wys Agri SA op ‘n reeks van funksies soos behuising, gesondheidsorg, deelboerdery, ensovoorts wat reeds deur boere onderneem word waaraan die nodige erkenning gegee moet word. Agri SA steun ook voorkeurverkryging van insette vanaf bemagtigingsmaatskappye mits dit ekonomiese sin maak.
Agri SA beredeneer in sy voorlegging ook die problematiek van ‘n algemeen toepasbare telkaart vir die landbou waarmee deelname aan SEB-aksies gemeet kan word. Die kleinsake-karakter van boerderye en hulle potensiaal om aan die voorgestelde norme gemeet te word stel besondere uitdagings in die verband wat verdere besinning regverdig. Teen die agtergrond werk Agri SA saam met georganiseerde besigheid in die algemeen om ‘n meer aanvaarde bedeling vir kleinsake met die owerheid te onderhandel.
Dit is verder Agri SA se standpunt dat Swart ekonomiese bemagtiging in die sektor nie moontlik is indien die beleidsomgewing dit nie vir die kommersiële landbou moontlik maak om winsgewend te funksioneer nie. Agri SA vra derhalwe dat daar ook ‘n telkaart gehou moet word oor vordering met die prioriteite van die Strategiese Plan vir die Landbou sodat die lewensvatbaarheid van die Agri SEB-inisiatief daaruit kan voortvloei.