Versekering verval sonder dat hulle weet

Baie Suid-Afrikaners trap in die slaggat om duisende rande onnodig op huisversekering te betaal. Baie ander se gebouversekering het verval, sonder dat hulle dit besef. Dit kan mense wat hulle lewe lank gespaar het, skielik finansieel ruïneer.
Om ‘n mens se huisverband uiteindelik na tien of twintig jaar te kan aflos, is vir elke huiseienaar ‘n heuglike dag. Dit beteken meer besteebare kontant, benewens die wete dat jou woonplek na soveel jare werklik volledig jóú eiendom is. Dit is veral mense ouer as 50 wat in dié bevoorregte kategorie val, maar wat terselfdertyd maklik in ‘n slaggat trap wat hulle selfs bankrot kan maak.

Te midde van die vreugde en opwinding van die afbetaalde verbandlening, vergeet talle mense dikwels om hulle gebouversekering – ook bekend as huiseienaarsversekering – voort te sit. Die besturende direkteur van IntegriSure, Arnold van der Linde, sê dit gebeur meestal wanneer die gebouversekering by die instansie gedoen word wat die finansiering vir die aankoop van die woning verskaf, oftewel die verbandhouer. “Die paaiement vir die gebouversekering word dikwels gerieflikheidshalwe by die verbandpaaiement gevoeg, en wanneer die verband afgelos word, verval die paaiement en dikwels ook die gebouversekering.”

Van der Linde sê die huiseienaar kom dit  eers agter as daar iets verkeerd loop.

“Dit is ‘n groot waagstuk om ‘n woning te besit waarvan die gebou self nie verseker is nie. As ‘n rukwind die dak sou afwaai, swaar reën ‘n muur inmekaar sou laat val, weerlig ‘n brand sou stig, of ‘n aardskudding ernstige krake sou veroorsaak, kan dit die eienaar ruïneer indien hy nie gebouversekering het nie,” sê hy.

Die ander probleem, sê Van der Linde, is dat die meeste mense wat vir lewenstylkortings kwalifiseer, dikwels onnodig baie geld aan gebouversekering betaal omdat hulle dit as deel van die verbandpakket by die verbandhouer  uitneem en aanhou betaal nadat die verband afbetaal is.

Dit is dus om ooglopende redes heelwat voordeliger om jou gebouversekering deur jou korttermyn-versekeringsmakelaar te reël – nie net omdat jy moontlik heelwat geld sal kan bespaar nie, maar ook en veral omdat die gevaar dan nie bestaan dat jou gebouversekering sal verval nadat die verband afgelos word nie.