Konferensiefasiliteit groot toevoeging tot BJF Game Ranch

THABAZIMBI – Sedert die eerste oornagfasiliteit drie jaar gelede by BJF Game Ranch ingerig is, het hulle sodanig uitgebrei dat hulle nou oor volledige konferensiefasiliteite beskik.
Die vertrek maak voorsiening vir 50 konferensiegangers en is met die nuutste tegnologie toegerus, onder andere ‘n groot plasmaskerm wat aanbiedinge baie vergemaklik. Die geriewe is ook ideaal vir spanbou sessies.
Konferensies op wildplase gaan nie net oor die een lesing en bespreking op die ander nie. Daarom word daar ruim voorsiening gemaak om die konferensiegangers se tydjie daar so aangenaam as moontlik te maak. Twee groot borrelbaddens verseker dat jy rustig in die water kan lê en ontspan. ‘n A la Carte restaurant waar drie etes bedags bedien word en ‘n gesellige kroeg maak ook deel hiervan uit. Dagbesoekers is ook welkom om van hierdie fasiliteite gebruik te maak. Die restaurant kan ook vir funksies en troues bepreek word. Spesiale voorsiening vir buffet-etes kan ook getref word. Die spyskaart beskik oor ‘n groot verskeidenheid van disse en ‘n goeie wynlys maak ook deel hiervan uit.
Alle kamers, met hul en-suite badkamers, is lugverkoel  en skakel direk met die konferensiesaal.
Aangesien dit ‘n wildplaas is, is daar ook heelwat wild te sien. Die veertien spesies vlaktewild wat hier voorkom, kan op spesiale besigtigingsritte, wat deur BJF gereël word, gesien word. Die diere is baie mak en daar is ook ‘n paar voetslaanpaadjies vir die meer aktiewe besoeker. Onthou gerus om jou verkyker saam te vat aangesien ‘n groot verskeidenheid voëls ook hier voorkom.
BJF Game Ranch is sowat 40 km vanaf Thabazimbi en ses kilometer vanaf Koedoeskop op die Warmbad pad.