Marakele voëlkyk wegbreek ‘n groot sukses.

THABAZIMBI – Gedurende die naweek van 20 – 22 Februarie het die jaarlikse voëlkyk naweek in die Marakele Nasionale Park plaasgevind.
Die geleentheid word gereël deur die Marakele en Pretoria streke van die ereveldwagters. Die naweek is geborg deur onder andere Sasol, Kumba, Avis, Thabazimbi Spar Thabazimbi Shoprite-Checkers, Pick’n Pay en vele ander. Die naweek het afgeskop met ‘n kaas en wyn geleentheid Vrydagaand waar Ann Turner die gasspreker was. Sy het die gaste ingelig oor die vordering met die hervestiging van bromvoëls waarvan daar maar sowat 2000 in die land oor is. Kinders van die plaaslike hoërskool in Regorogile is gewys hoe om voëls te waardeer. Hulle was vergesel deur ‘n opgeleide voëlgids in ‘n voertuig wat deur Avis geborg is vir die naweek.
Saterdag is in die Park deurgebring op soek na voëls. Die asemrowende natuurskoon het baie laat besluit om weer eendag terug te kom Bosveld toe. Vir die naweek is die plase van Marakele Park Ltd, Matla Mamba en Matlabas Bees- en Wildboerdery oopgestel spesifiek om watervoëls in hulle natuurlike habitat te kan besigtig.
Saterdagaand het almal by die woonwapark byeengekom om Potjiekos uit Albert van Niekerk se pot te kom geniet. Dit was so suksesvol dat hy sy wenresep met baie van die gaste moes deel. Gedurende die feestelikheid het die Ma’s Boys (wat al die pad van Pretoria afkomstig is) die gaste met ligte musiek vermaak.
Sondag is die naweek se aktiwiteite afgesluit met ‘n ontbyt geborg deur Checkers Shoprite en gedurende die geleentheid is pryse uitgedeel wat gewissel het van flitse tot wegbreek naweke ter waarde van R2000. Mnr Richard Hughes van Sasol het ook ‘n mobiele biblioteek met 2000 boeke aan Marakele oorhandig. Hierdie wonderlike geskenk sal voortaan gebruik word in die Omgewings Opleidingssentrum van die Park.