Debuut album vir Dalinda Snyman

THABAZIMBI – Dalinda Snyman se debuut CD word eersdaags uitgereik. Dalinda (22) het op Thabazimbi skoolgegaan en grootgeword. Sy het tydens haar skooljare aan verskeie revues deelgeneem, in die Noord Gauteng jeugkoor gesing en talle talentkompetisies gewen.
Ná skool het sy ligte musiek by die Pretoriase Technikon gestudeer en na-ure by Hatfield Business College as regssekretaresse gekwalifiseer.
Sy het in 2001 die Afrikaanse liedjieskryfmark betree deur aan die ATKV-Crescendo kompetisie deel te neem. Sy was in dieselfde jaar ‘n finalis. Sy het daarna ook ‘n musiekvideo “Toor met my” gemaak wat tans die titel is van haar debuutalbum wat binnekort uitgereik word.
Dalinda skryf haar eie musiek in samewerking met Wouter van de Venter. Haar musiek het verskillende style wat wissel van moderne Afrikaans “up tempo” pop tot kontemporêre middelmoot musiek.
Haar musiekinvloede sluit in musiek soos Laurika Rauch, Karen Zoid, Amanda Strydom en Nianell.
Leon Ecroignard en Wouter van de Venter, wat die produksie van haar debuutalbum “Toor met my” behartig het, druk ook hul onderskeie stempels op haar musiek af. Behalwe vir haar solo-vertonings, tree sy ook gereeld saam met Mel Botes en Wouter van de Venter op.
Haar eie liedjies wat sy saam met Wouter op die album geskryf het, sluit in “Bokkie”, “Toor met my”, “Soutsmaak” en “Vir ewig”. Wouter het “Volmaan” spesiaal vir haar vir die album geskryf en sy sing ook nog twee van sy liedjies “Ek sal oorleef” en “Myne vanaand”.
“Toor met my” het ‘n unieke, moderne up-tempo kwaliteit klank met ‘n pop-uitslag wat by ‘n baie breë gehoor aanklank sal vind.
Dalinda is pas benoem vir ‘n Geraas Musiek Toekenning in die kategorie beste pop-album. Sy kom te staan teen groot name soos Kurt Darren en Juanita du Plessis in dieselfde kategorie.
Sy het vanjaar reeds by die Kalfiefees (in Onrus) en onlangs ook by die Aardklop-kunstefees op Potchefstroom opgetree. Sy tree ook binnekort by die Cullinan-fees op. Haar album word amptelik op 12 November by die Centurion-teater in Lyttleton Manor bekendgestel en sy sal dan saam met Wouter van de Venter by die geleentheid optree.
Vir meer besonderhede kontak Martjie Roos 083 309 1900.